n DAG IN DIE LEWE van drie speurders van die Khayelitsha-polisiestasie is nie paintball speel nie. Vra maar vir kaptein Nicci de Wee, “Ounooi” soos haar kollega Blackie haar noem. Haar priestervriendin Sally sal dit beaam en so ook Peters, wat skaars sy oë van Nicci kan afhou. Want in Khayelitsha is die Jane Does volop: daardie vroueslagoffers wat so sonder naam op die staatspatoloog se outopsietafel beland. Maar waarom was daar vreemde vesels in die keel van ‘n meisie wat aan ‘n oordosis sterf en hoekom het sy en ‘n tweede slagoffer dieselfde tatoeëermerk? Weldra daal Nicci en haar kollegas af in die donker onderwêreld van mensehandel, begelei deur die enigmatiese, en verleidelike, doktor Gigi Gerber, kenner op die gebied van slawe sindikate. En heeltyd, in die agtergrond, staan al die kwesbare ontwortelde mense van die wêreld. Die speurspan in Bettina Wyngaard se nuwe riller is mense van vlees en bloed wat diep voel, in intense verhoudinge tot mekaar staan, liefhet, verliese ly en die hart aangryp. BETTINA WYNGAARD is die skrywer van Troos vir die gebrokenes(wenner van die Jan Rabie Rapport- prys) en die misdaadroman Vuilspel. Sy het in die regte aan Stellenbosch Universiteit studeer, waarna sy vir etlike jare lank as prokureur gewerk het. Sy woon in die Overberg.
