Ek staan op die lughawe vir Cézanne en wag. Daar is skielik ’n roering onder die mense, en ek kry byna die stuipe want ADVOKAAT BARBIE HET PAS GEARRIVEER. Ek kon netsowel ’n bord voor my bors gehou het:
Ja, ek is háár ma.
Seker een van die grootste nagmerries wat ’n ouer kan tref, het met Susan Lemmer gebeur. Haar pragtige dogter, Cézanne Visser, is skuldig bevind op 11 aanklagtes rakende kindermolestering en die vervaardiging van kinderpornografie.
In sy is steeds my kind! vertel Susan Lemmer haar storie …
Dit is die verhaal van ’n MA wat deur hel is oor die verkeerde keuses wat haar dogter gemaak het. Dit is ook die storie van ’n VROU wat eerlik is oor die foute waaraan sy self skuldig is.
Wanneer is dit foute en wanneer is dit oorlewing?
In dié boek betree die leser die donker dieptes van seksuele sadisme, skuld, verraad, uitbuiting en manipulasie wat afgespeel het agter een van die mees wydgepubliseerde kindermishandelingsake in Suid-Afrika se geskiedenis.
MAAR deur dit alles is daar ’n ma wat op God vertrou het, om vergifnis gebid het en nou uitsien na ’n hoopvolle toekoms!
