Zirkia kan nie agterkom of sy suurheid net teen haar gemik is nie. Maar sy is ook nie lus om sy motiewe te ontleed nie. Dis juis waarvan sy wou wegkom toe sy uit haar werk as bedryfsielkundige bedank het en haar hier op haar grootworddorpie in Mpumalanga kom vestig het.
Ver van ’n man soos Leroy le Roux, wat sy aan die kaak gestel het toe hy ’n groot klomp geld verduister het.
Het sy haar maar meer aan die vreemde wit bakkie gesteur wat ’n paar keer in haar oprit geparkeer was en wat daarna weggejaag het ….
